Besproeide weidings vir hoër veeproduksie

Koos du Pisanie, Veeplaas November 2016
Friday, 20 October 2017

“ ’n Mens is bevoorreg as jy genoeg water het om jou weidings onder besproeiing te sit, veral in die Noord-Kaap, waar die droogte soms kwaai kan toeslaan. Dit is egter nie so eenvoudig as wat dit lyk nie, want daar is baie dinge wat verkeerd kan loop. Dit is eintlik ’n fyn kunsie om al die balle gelyk in die lug te hou, want jy moet kyk na die balans van die kunsmis en die voiding wat die diere kry, die kondisie van die ooie en lammers, én jy kry skielik met ander soorte parasiete te doen.” Só gesels Henry Coetzee, ’n bekende boer uit die Prieska-omgewing, terwyl hy trots kyk na die kruisooie en lammers wat rustig op ’n stukkie weiding loop. Hy is een van die boere wat in die Karoo en droë gebiede langs die Oranjerivier boer en tussen sy landerye plek inruim vir weiding onder besproeiing. Boere langs die Oranjerivier in die Noord-Kaap het reeds baie goeie sukses met weiding onder besproeiing behaal. In Henry se geval loop die diere op die droër veld, maar ooie wat gelam het en veral dié wat tweelinge geproduseer het, word na die aangeplante weiding gebring omdat hulle beter voeding en versorging nodig het. “ ’n Ooi wat ’n tweeling op die droë veld moet speen, is nie ’n grap nie en ’n mens kan verstaan as haar kondisie afneem en sy dan ’n rukkie neem voor sy weer dragtig raak. Dit is juis om dié rede dat ek die natuur se hulpbronne tot my beskikking moet inspan.” Moeilike omstandighede In die Bo-Oranjerivier is nie baie goeie weiding beskikbaar nie. In ’n tegniese artikel deur H Steynberg en GC de Kock word vertel van ’n opname in die laat 1900’s waarin bevind is dat minder as 12% van die veld in dié gebied in ’n goeie toestand is. Danksy goeie inligting het die bestuur van weiding oor die algemeen baie verbeter, maar ’n mens kan sekere faktore nie verander nie. Die elemente van die natuur is een daarvan. Reënval is maar skraps in die Noord-Kaap en die gebied het volgens beskrywing ’n woestynklimaat met ’n herfsreënval wat gemiddeld van 70 tot 300mm per jaar wissel. Nog ’n boer langs die Oranjerivier wat ook weiding onder besproeiing gehad het, maar dit gestaak het, is Egbert van Rensburg van Prieska. Hy sê hy het voor ’n keuse te staan gekom en moes kies tussen weiding onder besproeiing of landerye vir die aanplant van uiesaad. Volgens sy berekeninge was die uiesaad meer winsgewend as die skape op die weiding. ’n Balanseertoertjie Hy stem saam met Henry dat dit ’n fyn balanseertoertjie is, omdat heelwat probleme saam met die weiding kom en daar heelwat meer uitgawes is as waarvoor ’n mens begroot het. Dit verg ook baie intensiewe bestuur. Die skape moet elke dag byvoeding ontvang, daar moet gereeld teen parasiete gedip word en volgens Egbert is die groei van die lammers op weiding nie so goed soos in goeie Karooveld nie. “Tydens ’n ernstige droogte sal aangeplante weiding beter wees,” sê hy. Hy meen weidings het nie dieselfde voedingswaarde as die veld nie. Volgens hom is daar nie ’n beter voedingsbron vir skape as Karooveld nie. Aan die ander kant glo Egbert egter dat ’n mens roofdierbeheer beter kan toepas as jou lammers onder jou oog is, en dit is een van die groot voordele van weiding onder besproeiing. Die regte ras Henry is dit eens dat skape op weiding ’n noukeurige bestuurstelsel vereis. Hy sê nie alle skape sal op weiveld gedy nie. ’n Mens moet die regte kruisings gebruik. Hy het al uit ervaring geleer dat wolskape baie goed vaar op aangeplante weiding, aangesien dié diere beter bestand is teen parasiete. Hy het Dormer-kruisings wat baie goed aanpas op aangeplante weidings. Dit is belangrik dat die ooie met lammers ekstra voeding kry, sodat die lammers vinnig gespeen kan word en die ooie vroeg weer dragtig kan raak. Henry sê sy mikpunt is om tweejaarliks ten minste drie lammers per ooi te produseer. Wat van die winsdrywers? “Alles gaan uiteindelik oor wins en die beste winsdrywers in skaapboerdery is die jaarlikse produksie van kilogram vleis of wol per hektaar. ’n Ooi wat haar lammers op goeie weiding kan speen, is gewoonlik in so ’n goeie kondisie dat sy vinnig weer dragtig raak,” vertel Henry. Hy het in die tagtigerjare sy eerste spilpunt-weiding aangelê met ’n kombinasie van swenkgras, raaigras en witklawer. Hy kry nogsteeds baie goeie resultate. Hy het ook onlangs een van sy spilpunte met Russiese gras beplant. “Dit is ’n nuwe soort gras wat ek gekoop het en wil beproef. Ek het egter nog nie regtig goeie resultate gekry nie, maar ek sal dit eers ’n kans gee om te sien wat die diere daarmee maak.” Dit lyk egter vir hom of hierdie grassoort goed sal aard in die droë Noord-Kaap. Henry glo ’n mens moet goeie navorsing doen oor aangeplante weiding voor jy plant. “Dit moet bv. soveel as moontlik van die voedingselemente bevat wat jou teelooie en lammers nodig het. Die korrekte dieet stel jou diere in staat om produktief te wees en met elke lamseisoen een of meer lammers te produseer. Die gehalte voeding wat teelooie van die aangeplante weiding sowel as ander lekke kry, is noodsaaklik vir ’n hoë reproduksietempo, hoë lamoorlewing en hoë lamgroei in die kudde.” Parasietbeheer is belangrik ’n Mens moet ook met nuwe parasiete rekening hou wanneer jou diere op aangeplante weiding loop. Henry vertel dat hy geleer het om sy skape meer gereeld teen rondewurm te doseer. “Dit help natuurlik as jy skape en beeste om die beurt op die weiding kan sit. Die larwes van die wurms word deur die beeste gevreet, maar hulle is nie ’n gasheer vir die parasiet nie. Dit is dus een manier van beheer, maar is nie altyd moontlik nie. Daarom spuit ek eerder gereeld. “Nog ’n probleem is dat die parasiete weerstand opbou teen die dipmiddel. Dan moet jy weer die middels verander.” Dat die Karooveld ’n uitstekende voedingsbron vir skape is, is gewis. Daar is egter gemoedsrus in die wete dat ’n mens op aangeplante weidings daagliks by jou diere kan uitkom en jou hand op die kudde kan hou. Uiteindelik is dit egter ervaring wat die septer swaai en wat ’n boer se keuse sal beïnvloed. Foto : Henry Coetzee, een van die bekende boere in die Prieska-omgewing, het uit ondervinding geleer dat wolskaapkruisings in sy omgewing die beste vaar op weiding onder besproeiing.