Praktiese bewaringsboerdery-beginsels vir eenjarige weidings

JJ de Klerk, Veeplaas Augustus 2016
Tuesday, 17 October 2017

Bewaringsboerdery is al ’n geruime tyd ’n nutswoord onder produsente, en veral insetverskaffers. Jare lank word bewaringsboerdery-beginsels gesien as ’n praktyk met wisselvallige resultate en wat uitsluitlik vir rygewas-produsente is. Dus ontstaan die vraag: Is bewaringsboerdery prakties toepasbaar op Suid-Afrikaanse veeplase? En wat is die implikasies daarvan vir die veeprodusent, sy produk, sy wins en sy grond? Bewaringsboerdery in sy eenvoudigste vorm is die praktyk/praktyke waar landbou-eenhede só bestuur word om volhoubare produksie te verseker en groter winste te realiseer, terwyl die benutting van hulpbronne beperk en die omgewing minimaal beïnvloed word. Bewaringsboerdery bestaan uit drie basiese beginsels, naamlik: • Minimale grondversteuring deur bewerkingspraktyke. • Permanente grondbedekking deur óf ’n gewas óf ’n dekgewas. • Diversiikasie van opeenvolgende gewasse of die vestiging van mengsels. Die stelling is al vervat en in soveel maniere opgesom, maar die kruks bly dieselfde, ongeag van wat geproduseer word of waar dit geproduseer word. Indien ’n produsent ’n volhoubare landbou-eenheid wat winsgewend is en minimale impak op die omgewing het wil bestuur, maar steeds ’n produk van hoë gehalte ekonomies kan lewer, hoef hy slegs hierdie drie eenvoudige en maklik toepasbare beginsels toe te pas om ’n nalatenskap vir die volgende geslag te bewerkstellig. Fyn beplanning Die voordeel van hierdie beginsels is dat dit uiters buigbaar is en aangepas kan word om enige boerdery in ’n bewaringsboerdery te verander. Die grootste en sekerlik die enigste nadeel van hierdie beginsels is dat dit ongelukkig nie ’n vinnige proses is nie. Produsente is dit ook eens dat bewaringsboerdery nie aldag goedkoop en prakties is nie. Om bewaringsboerdery prakties toe te pas, verg fyn beplanning en baie navorsing, en word slegs deur ons eie kreatiwiteit beperk. Daar is aanvanklike kapitale koste, soos vir implemente en ander toerusting, wat noodsaaklik is vir hierdie tipe boerdery, maar dit is alombekend dat die hoë koste oor ’n tydperk geregverdig kan word. Minimale grondversteuring Vir minimale grondversteuring deur bewerkingspraktyke is die regte implemente die kortste pad na sukses. Daar is verskeie geenbewerking- en ook minimumbewerking-fynsaad- en kleingraanplanters op die mark beskikbaar, en daar is ’n planter wat elke sak pas. Planters moet vir elke boerdery se behoeftes gekies en aangepas word. Melkplase in Natal se Middellande, wat raaigras insaai vir opgradering, se behoeftes gaan wesenlik verskil van dié van ’n beesstoetery wat babala in die noorde van die land wil vestig. Bewerkingspraktyke is debatteerbaar onder bewaringsboerdery-beginsels. In die strewe na minimale bewerking, maar met die vestiging van nuwe lande of hervesti- ging van ou lande met ’n beperkende laag of voedingstoftekort, soos in die geval van kalsium waar kalk ingewerk moet word, is konvensionele bewerking die enigste opsie. Veral met die vestiging van nuwe lande word geenbewerking nie aanbeveel nie, en nog minder so met die hervestiging van baie ou lande soos in die geval van meerjarige gewasse. Daar is ’n wanopvatting dat bewaringsboerdery nie tand-implemente, disse of skofels mag hê nie. Die kuns is om eerder hierdie implemente te gebruik, maar net waar dit regtig nodig is. Permanente grondbedekking Permanente grondbedekking is haalbaar, ongeag die boerderypraktyke of die omgewing waar so ’n plaas geleë is. Grondbedekking kan op twee maniere verkry word, naamlik deur óf ’n benutbare gewas te vestig en produktief te hou, óf ’n vorige gewas só aan te wend dat dit nie deur vee benut gaan word nie. Die eerste opsie is vanselfsprekend. Dekgewasse is waarop ons hier wil fokus. Dekgewasse is enige gewas wat gevestig word, maar nie geoes of benut gaan word nie, en dit sluit ook in waar ’n produktiewe gewas weer aangewend word as ’n dekgewas. Waar eenjarige gewasse soos tef, voersorghum en kuilvoermielies gevestig word, kan die gewas geoes en op die land gelos word om as dekgewas te dien. Dit is ook in die meeste gevalle die mees praktiese roete in Suid-Afrika. In sulke gevalle probeer ’n mens soveel as moontlik materiaal laat om as deklaag te dien. Voordele sluit in vogbewaring, erosie beperking en oor die lang termyn grondkondisionering deur organiese materiaal en herwonne voedingstowwe weer in die grond te plaas. Dieselfde kan gedoen word met rotasies waar beide die winter- en somergewas op dié manier aangewend word. Die grootste voordeel van sulke rotasies is laer onkruiddruk, en in sommige gevalle kan plantdatums vervroeg word. Die vogbesparing en laer onkruiddruk saam met die hoër grondtemperatuur as gevolg van die deklaag het in sekere gevalle ’n positiewe invloed op plantdatums, veral in die vroeë lente. Diversiikasie van gewasse Soos hierbo genoem, is rotasies met een jarige gewasse die eerste prys. Die sleutel hier is om in so ’n rotasie verskillende gewasse op mekaar te volg of waar moontlik, mengsels te vestig. Rotasies sluit twee of meer van die volgende in: Grasgewasse, knolgewasse, peulgewasse en spesialiteit- dekgewasse. Wissel die vier soveel as moontlik af en probeer om nooit twee van dieselfde gewasse na mekaar te plant nie: • Grasse: Grasse soos tef en raaigras, en dan kleingrane soos hawer en rog. • Voergewasse soos voersorghum, babala en mielies. • Knolgewasse: Radys, raap en beet. • Peulgewasse: Akkerbone, wieke, lupiene en erte. • Spesialiteit-dekgewasse: Alle gewasse wat nie gevestig word om te oes of bewei te word nie en met spesiale werkings, soos sonhennop en mosterd. Mengsels vir enkelgewasse In gevalle waar slegs een gewas per jaar gevestig word, is mengsels ideaal. Mengsels kan twee of meer van bogenoemde kategorieë insluit, hoewel mengsels met twee of meer spesies uit dieselfde kategorie ook as ’n mengsel geklassiiseer word. Sulke mengsels is gewoonlik ’n gras- en peulgewas, of gras- en grasmengsels. Een van die meer interessante mengsels is waar twee rye kuilvoermielies en vier rye akkerbone geplant word. Die kombinasie van hoë-energie mielies en hoë proteïen-akkerbone verrig wondere met die afronding van vee. Die voordele vir die grond om ’n gras- en peulgewas saam te plant, is legio. Die reste word dan as deklaag deur die winter gelos. ’n Ander rotasie wat ook begin opslae maak, veral waar besproeiing beskikbaar is, is waar voersorghum of babala in die somer in rye gevestig word met ’n geenbewerking-planter, en dan geoes of bewei en chemies doodgemaak word. Daarna word radyse of rape op dieselfde manier tussen die rye gevestig. Die rotasie is ideaal vir gronde wat maklik verdig en lewer ongehoorde opbrengste van soveel as 35 ton droëmateriaal per hektaar. Bewaringsboerdery is dus prakties toepasbaar op Suid-Afrikaanse veeplase, al moet meer in diepte beplan en bestuur word vir winsgewende produksie. Die voordele vir vee is meetbaar, veral waar slim rotasie gedoen word. Die voordele vir die grond is nimmereindigend, mits bewaringsboerdery as ’n geheel toegepas word waarvan die grootste voordeel die ontstaan van ’n volhoubare boerdery vir die toekoms is. Foto 1: Melkkoeie benut raaigras waar mielies die vorige seisoen geproduseer is. Let op die mieliereste wat steeds sigbaar is.