Hooimaak is 'n fyn kuns om te bemeester

Derryn Nash, Veeplaas Februarie 2017
Monday, 30 October 2017

Kuilvoer (hoofsaaklik gras en mieliekuilvoer) bly die goedkoopste voedingsbron vir herkouers. Hoe beter die gehalte van die ruvoer, hoe beter presteer diere en hoe minder kragvoer is nodig om diere optimaal te laat presteer. Gras groei ongelukkig nie die hele jaar nie. Tropiese grasse wat vir hooimaak geskik is, groei uitstekend ná die reëns in die lente en somer. Dit is hierdie goeie groei wat op die een of ander manier bewaar moet word vir die moeilike wintermaande, wanneer geen groei plaasvind nie, maar die diere se voedingsbehoeftes geensins afneem nie. Oortollige gras van weidings in gematigde gebiede het die voordeel dat dit ook bewaar kan word. Eerstens moet die hoë voginhoud egter tot 15 tot 30% verlaag word voor dit gebaal word. Afgesien van die grasbaal by 15 tot 20% ’n voginhoud van ongeveer 30%. Laasgenoemde opsie is heelwat duurder omdat dié kuilvoer gewoonlik van gematigde weidings van ’n hoë gehalte gemaak word, wat hoofsaaklik jaarliks hervestig moet word en goed besproei en bemes moet word. Kuilvoer word dikwels gemaak wanneer die gras nie droog genoeg vir hooimaak is nie. Watter metode van bewaring ook al gebruik word, ’n mens moet onthou dat die gehalte van die gras wat gebruik word altyd gedurende die bewaringsproses afneem. ’n Mens het basies ’n keuse tussen veldgras en aangeplante weidings. Veldgras Veld in die suurveldgebiede van die land word gewoonlik in die vroeë herfs gesny en gebaal. Hoe later die veld gesny word, hoe swakker sal die hooi wees. Suurveld, wat deur onsmaaklike spesies soos Cymbopogon spp, Hyparrhenia spp en Aristida spp oorheers word, is nie vir hooimaak geskik nie en behoort op die meeste vir beddegoed gebruik te word. As ruvoer egter besonder skaars is en ’n noodsituasie heers, kan hierdie tipe hooi met molasse en ureum benat word om die verteerbaarheid te help verbeter. Veld in die soetveldgebiede van die land kan regdeur die jaar bewei word en hoef dus nie gebaal te word nie. Sekere kampe kan in die somer gespaar en in die winter bewei word. Aangeplante weidings Eragrostis curvula word baie algemeen as meerjarige hooigewas geplant. Afhangende van die reënval, kan dit drie tot vier keer per seisoen gesny en gebaal word. Die gehalte hang grootliks af van die hoeveelheid stikstofbemesting en die stadium wanneer dit gesny is. As dit in vol blom gesny word, sal dit laer in voedingswaarde wees as wanneer dit voor die blomstadium gesny word. Eragrostis teff is ’n eenjarige gewas, wat dus elke jaar gesaai moet word, maar dit maak uitstekende hooi. Veral die perdebedryf verkies tef bo enige ander hooigewas. Afhangende van die saaidatum, kan twee of drie snysels afgehaal word. Albei spesies het fyn blare en kan binne twee dae gesny, gedroog en gebaal word, hoewel dit grootliks van die groeistadium en weersomstandighede afhang. Die lande moet egter goed bemes word ná sny, met 50kg stikstof (N) en 50kg kalium (K) per hektaar. As genoeg kalium nie teruggeplaas word nie, sal die lande verarm omdat die minerale uit die grond verwyder word in die bale. In plaas van anorganiese kunsmis kan hoendermis of kraalmis op die lande toegedien word. Tabel 1: Die gehalte van veldgras wat in verskillende maande van die jaar gebaal is (Bredon, Stewart en Dugmore, 1987). Maand gebaal | Ruproteïen (%) | Energie (ME MJ/kg) Februarie--------------6,1-----------------7,1 Maart-------------------5,1-----------------6,7 April---------------------3,9-----------------5,8 Hoe om hooi te maak Moet onder geen omstandighede gras baal wat tydens beweiding deur die vee agtergelaat is nie. Hierdie gras is van ’n lae gehalte, wat in die eerste plek die rede is waarom die vee dit nie gevreet het nie. Ná baling sal dit net nog swakker word. Verder sal dit vol miskoeke wees, wat die smaaklikheid verder sal benadeel. Die tydsberekening is belangrik en die gehalte van die snysel sal die gehalte van die hooibale bepaal. Sny vroeg in die oggend wanneer die weervoorspelling vir die volgende paar dae gunstig is. Hoe droër en warmer die weer, hoe vinniger sal die gras droog word sodat dit gebaal kan word. Sny die gras en los dit sodat dit aan die bokant kan droog word. Draai dit dan om sodat die onderkant ook kans kry om droog te word. As die gras tussen 15 en 20% droëmateriaal is, hark dit dan in windrye en begin baal. Moenie begin baal as die gras nog te nat is nie. ’n Mens sal net skade ly deurdat die bale sal bederf. Dit kan selfs só warm word aan die binnekant dat dit spontaan in vlamme uitbars. Hooi kan in klein reghoekige bale of in ronde bale van verskillende groottes gemaak word. Dis moontlik om die hooi met ’n sekel of bossiekapper te sny en dan met die hand klein reghoekige baaltjies te maak. Die maak van hooimiedens is ’n kuns wat besig is om te verdwyn, maar dit is nog ’n manier om hooi vir die winter te bewaar. Meganisasie is dus nie noodsaaklik nie. Berging van hooi As hooi buite in die wind en weer geberg word, sal dit mettertyd tot niet gaan. Die mikpunt is om verliese tot die minimum te beperk. Tussen 10 en 50% van ’n baal kan verlore gaan as dit verkeerd geberg word. Die beste plek om bale te berg, is onderdak op droë grond. As dit buite geberg moet word, is dit uiters belangrik dat die bale van nat grond gelig moet wees. Die droë gras sal die vog absorbeer en so agteruitgaan. Berg op ’n goed gedreineerde plek op palette of op pale. Moet ook nie bale onder bome berg nie, want die son sal dit dan nie weer na reën uitdroog nie. Berg ronde bale in rye van noord na suid as dit enigsins moontlik is. Dit beteken die son beweeg van oos na wes daaroor en kan dit van weerskante droog bak. Ideaal moet die helling ook noord- suid wees sodat die water in die rye af kan dreineer en nie onder die rye in nie. Moet ook nie die rye te na aan mekaar pak nie, anders sal die water tussen die bale versamel en skade veroorsaak. Rye moet ten minste een meter uitmekaar wees. Dis die beste om klein baaltjies en klein ronde baaltjies van die grond af te berg en met ’n seil te bedek. Hoewel berging in ’n skuur die beste is, is dit dikwels te duur. Figuur 1: Hoe om hooi te berg. Aankoop van hooi Dikwels moet ekstra hooi gekoop word en dit is baie belangrik dat slegs goeie gehalte gekoop word. Die regte vrae om te vra, is: • Was dit veldhooi of aangeplante weidings? • Indien aangeplante weidings, was dit ordentlik bemes? • Wanneer is dit gebaal - die maand en ook die groeistadium? Maak dan seker van die volgende: • Kleur: ’n Bleekgroen kleur is die beste vir Eragrostis, terwyl veldhooi ’n rooierige kleur moet hê en definitief nie te growwe stingels moet hê nie. • Hoe dig is dit gebaal? ’n Los baal sal baie minder weeg en ook gouer bederf. • Wees versigtig om nie ’n klomp bosluise saam met die bale na jou plaas in te voer nie As ’n mens baie hooi van een bron af koop, neem ’n verteenwoordigende monster en stuur dit vir ’n gehalte-ontleding. Op hierdie manier sal ’n mens presies kan bepaal hoe om die ruvoer strategies te gebruik om jou vee optimaal te voer deur die ruvoer korrek met byvoeding te balanseer.